Die gebruik van hael- en skadunette in die kernvrugbedryf

Die gebruik van skadu- en haelnette in landbou is geensins nuwe tegnologie nie. Die gebruik van nette word egter al hoe meer aanloklik soos die waarde van kwaliteit vrugte asook die risiko van skade aan die vrugte toeneem. Op 28 Maart 2014 het die onafhanklike hortologiese studiegroep, Die Fieldmans, die praktiese eienskappe asook die fisiologiese effekte van nette in die sagtevrugbedryf bespreek. Danie Kritzinger en Mico Stander het die geleentheid namens Agrimotion bygewoon en deel graag oor die ervaring.

Die dag het in Grabouw begin met lesings deur:

Dr Wiehann Steyn, HORTGRO Science    –Die fisiologiese effekte van skadu-nette op Sagtevrugteverbouing

Willie Kotze, HORTGRO Science –Resultate van net-proewe op drie persele

en Daan Brink, Two-A-Day -Die praktiese aspekte van boer onder nette.

Deeglike navorsing oor skadu-nette spesifiek in appelverbouing is skaars. Die toepasbaarheid van die navorsing in Suid-Afrikaanse toestande word ook beperk deurdat baie van die werk in lande soos Australië en in Europa gedoen is. HORTGRO Science het die resultate van hul navorsing op nette in die Suid-Afrikaanse bedryf by die geleentheid bespreek.

Volgens Dr Steyn se literatuur studie kan boere verskille met betrekking tot die volgende aspekte verwag wanneer nette opgerig word:

Lig:

‘n 12-20% afname in die sigbare lig spektrum en 20-28% afname in die ultra-violet spektrum met die gebruik van ‘n 20% skadunet. Die variasie in die lig wat die boom bereik is weens die verskillende tipes en kleure net wat gebruik word, d.w.s. wit, blou, geel, grys, “pearl”, rooi ens.

 

Temperatuur:

‘n Afname van 1-3oC in lug-temperatuur, 3oC afname in blaar-temperatuur, 6oC afname in vrug-temperatuur en ‘n 0.5-1oC afname in grond-temperatuur. Die waardes sal varieer na gelang van die area, helling en tipes net wat gebruik word.

 

Wind:

Windspoed kan tot en met 50% verminder word. Die effek op wind sal afhang van die dekking van die net. Bv. die nette by die Orchard of the Future proef by Oak Valley Landgoed is langs die kante ook gedek, om onder andere die wind op die perseël te bespreek. Die hoof rede vir die kant bedekking is egter vir pes en plaag beheer.

 

Bot en Vrugset:

Vrugset asook “return bloom” kan laer wees onder nette en opbrengs mag alterneer tussen jare. Vrugkwaliteit varieer ook, maar oor die algemeen sal rooi kleur swakker wees en groenkleur verbeter. Sonbrand word verminder, maar nie verwyder gegewe dat in baie warm jare daar steeds sonbrand waargeneem is. Die laer sonbrand op sensitiewe kultivars word aanskou as die grootste voordeel. Die TSS is laer onder nette weens laer ligvlakke. Die net voorsien ‘n natuurlike vrug-uitdunningseffek weens kompetisie vir lig.

Daar is geen statistiese bevestiging hiervan nie, maar tendense vanuit ervaring in Grabouw toon dat geil boorde minder set onder net as sonder en dat swak boorde beter set en gaandeweg hoër produksies lewer onder net.

Groei:

Groei is geiler in die vorm van meer en langer lote.

Waterverbruik:

Waterverbruik is minder weens die laer waterdampdruk gradiënt tussen die grond, plant en atmosfeer. Drupbesproeiing op kernvrugte sal meer realisties oorweeg kan word onder nette. Verlaagde waterverbruik is egter nie op alle gewasse waargeneem nie soos opgemerk deur ‘n Fieldmans lid.

Onderstam:

Die omskakeling van droëmassa na vrugmassa sal grotendeels deur die onderstam bepaal word. Daar is groot opwinding oor die gebruik van verskillende onderstamme onder nette. Veral die baie vrugbare, dwergende M9 en GENEVA 222, wat onder ander omstandighede moontlik onvoldoende groei kan hê. ‘n Formele proef om die effek van nette op verskillende onderstamme te toets word tans oorweeg.

Pes- en Plaagbestuur:

Verbeterde spuit effektiwiteit sal moontlik, onder andere, Fusi beter beheer. Bloedluis en kalander is egter tot dusver moeilik om onder net te beheer. Mot en vlieg gedrag onder die net is moeilik om te voorspel en sal gemonitor moet word.

Willie Kotze se navorsingsresultate gee aanleiding tot die volgende afleidings:

  • Kultivar keuse is kardinaal om verbeterde vrugkwaliteit te verseker. Die resultate dui dat daar minder sonbrand en klas 3 vrugte is, maar kleur kan swakker wees op sekere kultivars.
  • Onderstam keuse sal krities bepaal moet word om groei te reguleer onder die net.
  • Die aspek en grondpotensiaal sal ook ‘n impak op die sukses van die ontwikkeling hê en sal dus ondersoek moet word voor vestiging.
  • Bestuurspraktyke wat opgeskerp sal moet word is:

o    snoei (om die lig penetrasie te verbeter vir knopontwikkeling en vrugset)

o    uitdun (siende vrugte makliker speen onder die nette) en

o    spuitwerk (soos Regalis vir groei beheer).

Daan Brink het uit sy praktiese ervaring gedeel:

  • Daar moet nie moeite gespaar word wanneer die ankers geplant word vir die struktuur nie. Dit kan grotendeels die integriteit van die struktuur bepaal.
  • Die tou/draadwerk word makliker soos tegnologie verbeter.
  • Die struktuurpale moet elke 12 tot 16m geplant word in ‘n diamant patroon sodat daar elke 6 tot 8m ‘n dwarslyn hardloop om die net te ondersteun.
  • Die mees gepaste materiaal word bepaal deur die doel van die net: Haelnette sal ‘n sterker net benodig wat oopgemaak kan word om hael (of sneeu) te laat deurval. ‘n Goedkoper net sal egter as skadunet gebruik kan word.
  • Daar moet altyd ‘n 0.5 tot 1 m spasie bo die toppe van die bome gelos word vir bye aktiwiteit. Dus sal ‘n 4.5 m hoë struktuur gepas wees.

Ons is dankbaar dat die sprekers en die konsultante betrokke met die proewe die werk met die bedryf deel. Hopelik sal ons meer werk oor nette by die HORTGRO Simposium in Junie 2014 sien. Indien daar spesifieke onderwerpe is wat u by die simposium wil sien, soos die gebruik van nette, kan u gerus die versoek deurgee aan ons dan sal ons dit deurgee aan die organiseerders. Agrimotion sal ook op datum bly met die ontwikkeling van die tegnologie in die bedryf sodat u, die kliënt die mees opgedateerde advies kry.

Ter afsluiting, die tipiese aanbeveling onder nette: Granny Smith met ‘n dwergende onderstam, onder ‘n wit net met dubbeld die aantal byekorwe.